Welkom
God roep en vernuwe ons om Hom, mekaar en die wêreld met ons genadegawes te dien.

WAT 'N VREUGDE!
Uiteindelik het dit gekom en ook gegaan – vinniger as wat 'n mens kon dink. Maar dit was 'n fees. 'n Heerlikheid wat hom elke jaar afspeel. Ja, ek praat van die kermis wat ons gehad het. Was dit nie lekker nie? Soos gewoonlik het Pieter en Ansie die voorafreëlings puik gehanteer. Die Vrydagoggend het almal gou na hul asems gesnak by aanskoue van die bewolkte en mistige weer teen opstaantyd. Tog was dit die heerlikheid self om in hierdie koelte te kon werk en werskaf. Die tafels en stoele, tente en springkastele is betyds opgeslaan en elkeen se plek was mooi bespreek en afgemerk. Al hierdie gewerskaf is gade geslaan deur die verbygangers en bedelaars asook die lidmate wat hul beloftes aangedra het. Die gebrek aan warm weer het dit soveel makliker gemaak. Dit was eintlik ideaal. Stukkie-vir-stukkie het alles in plek geval. Vroeg-vroeg was Ansie en haar helpers reeds aan die werk om die pannekoek-beslag te meng – 'n hele 19 x 20 ?-emmers vol. Tussen al hierdie geharwar het die kantoorpersoneel rondgeskarrel om met alles te help. So het die kermis in al sy glorie aangebreek ... en was dit nie te lekker nie. Die tafels het vrolik gestaan onder al die verskillende kleure en geure van goedere. Geen tekort is gemerk nie. Almal wil so gou as moontlik hul eetdingetjie kry. Die binnehof het vrolik weerklink van die gekekkel van almal wat saamkuier. Die musiek het pragtig bygedra om 'n vrolike karnavalatmosfeer te skep. Die kinders het dit gate uit geniet met al die speletjies en die glybaan en springkastele. Geen oomblik om verveeld te raak nie. Nog minder het hulle tyd gehad om honger of dors te raak, want daar was genoeg om te eet en te drink. Wat 'n vreugde om 'n gemeente so te sien saamwerk en saamkuier! Die kuier was eintlik die lekkerste. Om almal net so saam te sien – laggend en vrolik. By terugskoue besef ek dat ons nie vir enigiets meer kon vra nie. Die weer was absoluut perfek. Die mense het die atmosfeer van vreugde en geluk geskep, en deur die hele aand gedra. Daar was genoeg van alles. Die regte goed was daar. Niemand hoef met leë hande daar weg te gestap het nie. Tog, te midde van al hierdie opwinding en energie, raak ek stil en bewonder ons Here. Daar is nie veel oor of van Hom gesels tydens die kermis nie. Nee, maar sy onsigbare teenwoordigheid wat alles rig en lei, was in alles teenwoordig. Hy het die leisels in sy hande vasgehou. Hy het die gesprekke gerig en gelei. Hy het die weer gestuur vir 'n perfekte middag/aand. Stlweg sê ek: "Dankie Here. Dankie vir u liefde vir weerlose mensies. Dankie vir kennis en krag. Dankie vir 35 jaar van genade vir Parow-Panorama." Soli Deo Gloria [ds Arnold Nadel]
|